ORANIA CVO SE RUGBY-  EN NETBALSPELERS PRESTEER

Nege van Orania CVO-skool se leerlinge het Noord-Wes by die  Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) se landswye Winterspele vir rugby en netbal verteenwoordig te Groblersdal. Dit is 'n reuse sportbyeenkoms wat oor drie dae strek en waaraan meer as 1000 leerlinge deelneem. Die nege leerlinge was ware ambassadeurs vir Orania en hul gedrag en optrede onberispelik. Hierdie spele bied ook 'n uitstekende geleentheid vir Orania om homself in die toekoms te bemark! 

Orania CVO-skool se leerlinge het uitgeblink in 'n uitgelese geselskap. WJ Nel was die kaptein van die Noord-wes Bulletjierugbyspan. Dié span het onder sy leiding die Christiaan de Wet-Winterspele gewen. WJ Nel het in totaal 11 drieë gedruk.Erik du Preez het sy staal gewys as die nr. 6 flank in die 0/11 Noord-Wes rugbyspan. Hierdie span het ook as kampioen uit die stryd getree. Jantie Forssman en Ronnie Forssman het hulle goed van hulle taak gekwyt as onderskeidelik losskakel en buitesenter van die 0/9 en 0/11 Noord-Wes rugbyspanne.

In die 0/19 ouderdomsgroep het Orania CVO-skool drie spelers gehad wat baie goeie rugby gespeel het. Frans Pretorius was die binnesenter en Lourens du Preez die skrumskakel van Noord-Wes se 0/19 rugbyspan. Een van die seuns, Ouinton Senekal, het pragtige spel gelewer en is gekies vir BCVO se nasionale span wat volgende jaar aan die AVS Bokkieweek gaan deelneem. Hy het ook twee drieë gedruk. Quinton het groot moontlikhede as rugbyspeler en Orania CVO-skool sal alles moontlik doen om hom te ondersteun om sy volle potensiaal te ontwikkel. 

Wilmie du Preez was aanvullende vleuel van Noord-Wes se 0/14 kampioen-netbalspan en het blink spel gelewer. Hul afrigter is Sandra du Preez, Natuur- en Skeikunde onderwyser by CVO-Orania. Dit is die tweede opeenvolgende jaar dat Sandra du Preez se Noord-Wes span die Winterspele wen. Carmé de Villiers het as rotsvaste verdediger ook goeie spel gelewer in die 0/15 Noord-Wes netbalspan. 

Ons dank die HERE vir die gawes en vermoëns wat Hy aan die leerlinge en betrokke persone gegee het!  Orania CVO-skool bedank ook graag die leerlinge vir hulle deursettingsvermoë en dissipline deur die seisoen en die ouers vir hulle volgehoue ondersteuning. Ons is voorwaar trots op julle!
   
   

Quinton Senekal

Ronnie Forsman

 

Jantie Forsman

Erik du Preez

Frans Pretorius

WJ Nel

Carme de Villiers

WJ Nel Kaptein van Bulletjies